Die hart van geloofsvorming begin en eindig by Jesus.
Dis hier waar ons die hart van Jesus se uitnodiging ontdek… en saam met Hom op pad te gaan om gevorm te word tot ware menswees.
Hierdie blad bied ’n oorsig van tien kernbewegings binne geloofsvorming. Dit is nie ’n lys van idees nie, maar uitnodigings tot ‘n nuwe manier van leef, elke dag, saam met Jesus.
Kom
Redding is God se groot uitnodiging in Jesus aan die mensdom. Jesus Christus kom elke dag na ons toe met ’n uitnodiging: Kom – na My toe. Hy nooi ons op ’n lewenslange reis saam met Hom – ’n reis na egte menswees en om voluit te lewe.
Sy Koninkryk
Jesus nooi ons om elke dag te leef onder Sy Koningsgesag – om vanuit Sy koninkryk te lewe. Dit is die enigste manier waarop menslike lewe floreer. Dissipelskap is die lewenslange reis, saam met Jesus, waar ons by Hom leer om daagliks vanuit die koninkryk te lewe.
Seisoene
Hierdie reis saam met Jesus, gaan deur alle seisoene, van lente en somer tot herfs en winter. Selfs in seisoene van verlies, doodgaan en wag, is Jesus teenwoordig. Winter is egter die geboorte van ’n nuwe somer…
Vriendskappe
Elkeen van ons reis op ons eie unieke manier, maar niemand kan alleen reis nie. Jesus vorm om homself en met mekaar diep vriendskappe. Ons het veilige, liefdevolle ruimtes nodig waar ons eerlik en broos kan wees. Ware gemeenskap beteken dat ons nie veroordeel word nie, maar in liefde verantwoordbaar gehou word.
Leer leef met Jesus
Jesus nooi ons tot ’n eerstehandse verhouding met Hom. Nie net om van Hom te weet nie, maar om Hom te leer ken en saam met Hom te leef. Hy leer ons om bewus, naby en afhanklik van Sy teenwoordigheid te lewe.
Leer leef met jouself
Jesus nooi ons ook om eerlik met onsself te wees. Ons leef in ’n kultuur van gejaagdheid waar ons maklik verby onsself en ver van onsself lewe. Dit lei tot emosionele onvolwassenheid en stagnasie. Op die reis kom Jesus ons ontmasker. NOOIT om ons te beskaam nie, maar te lei na groter heling en vryheid.
Innerlike Reis
Selfkennis is wesenlik vir die reis. Die innerlike reis, saam met Jesus, bring ons in voeling met die diep wortels van destruktiewe vorming in ons lewe – ons verwonding. Dit is ’n proses… stadig, diep en lewensveranderend. Dis ’n uitnodiging om vry te leef in Hom.
Die Gimnasium
Jesus se woorde is nie net waarhede om te glo nie, maar wysheid om in te oefen. Ons word genooi na Sy geestelike gimnasium- waar ons ophou om sy woorde te probeer doen en waar ons leer om sy woorde in te oefen. Wanneer ons dit nie dadelik regkry nie is Jesus nie daar met veroordeling nie, maar met liefdevolle aanmoediging.
Vorming en Omvorming
Ons almal word gevorm, bewustelik en onbewustelik. Jesus nooi ons op ’n pad van aktiewe geloofsvorming waar Sy karakter in ons gestalte kry. Geloofsdissiplines soos Lectio Divina, Examen, stilte en afsondering help ons om die klei te word in die hande van die Pottebakker.
Diensknegleierskap
Vanaf die eerste dag op hierdie reis gaan dit oor ons naaste en die gemeenskappe waarin ons woon en werk. Ons word nie in die eerste plek verlos vir die hemel nie, maar vir die aarde. Jesus neem ons in diens as medewerkers vir die koninkryk, om saam met Hom ’n verskil te wees en te maak in ons wêreld.
Die manier waarop dit gebeur is deur diensknegleierskap. Leierskap gaan oor beïnvloeding, en elke mens beïnvloed ander. Jesus nooi ons uit om, deur ons eie menswording, draers te wees van Sy lig in die wêreld.
Hierdie pad van karaktertransformasie is nie net vir ons eie heil nie, maar ter wille van die wêreld wat Hy liefhet.
“Die Geloofsreis het my bevry. Ek het ontdek dat God my wíl gebruik, net soos ek is. Hierdie reis het my gehelp om emosionele seer te hanteer, my masker af te haal en werklik vry te leef as dissipel van Jesus.”
“Ons geloofsreis saam het ’n wesenlike verskil gemaak. Voorheen was ons geloofslewe warm en af-en-aan, maar deur die proses het ons geleer hoe om werklik daagliks saam met Jesus te leef. Die pad het ons help groei in geloof, selfkennis en verhouding, en het ’n merkbare verskil in ons alledaagse lewe gemaak.”
“Ek was ’n moeë, ontnugterde predikant wat honger was vir ’n meer egte spiritualiteit. Die geloofsreis was ’n geskenk waardeur ek tot ’n nuwe ontdekking van Jesus, myself en my roeping gekom het.”
Enigeen wat hunker na ’n dieper pad saam met Jesus.
As jy ’n innerlike hunkering het om te groei, om werklik gevorm te word, en om met betekenis in die wêreld te leef, dan is jy welkom. Jy hoef nie alles uit te werk voor jy begin nie… jy hoef net bereid te wees om die eerste tree te gee. Ons is hier om jou te ondersteun op jou geloofsreis, in jou eie tempo, en met begrip vir waar jy is.
Dis eenvoudig om jou geloofsreis te begin.
Jy kan ons kontak deur enige van die opsies op ons kontakblad, of jy kan die bladsy “Wat Ons Bied” besoek vir praktiese riglyne, stappe en maniere om jou pad saam met Sentrum vir Geloofsvorming te begin. Ons help jou om sinvolle eerste treë te gee, sonder druk of ingewikkeldheid.





Teken in om gereeld inspirasie, geloofsgedagtes en nuus oor retraites, geleenthede en inhoud van Geloofsvorming te ontvang.
🔒Ons respekteer jou privaatheid, wat beteken dat ons jou inligting nooit aan enigiemand sal verkoop nie.