Predikante van die NG Kerk is geregtig op verlof, maar ook op ‘n siklus van sabbatsverlof of sabbatstyd. So het ek by my eerste Sabbatstyd gekom,…
Dus: na verloop van drie jaar in dieselfde werkkring, kan hy ‘n 30 dae breek neem, maar die inhoud hiervan moet van so ‘n aard wees, dat hy aan die Kerkraad kan verslag lewer hieroor.
So het ek by my eerste Sabbatstyd gekom, en gewonder – hoe gebruik ‘n mens dit sinvol? Hoe verryk jy jou siel, en skep jy ruimte – weg van jou gewone roetine en leefstyl – om jou gees te verkwik vir die taak wat voorle? ‘n Paar jaar vantevore het ek met ‘n Fransiskaanse priester gesels, wat so terloops genoem het dat sy orde elke priester verplig om op ‘n 30 dae stillte retraite te gaan elke drie jaar. Dit het my gefassineer: 30 dae van niks praat nie, geen elektronika nie, en doelgerigte bestudering van die Woord!?! Sal ek dit oorleef? Dit klink na die berg Everest van retraites.
Gelukkig is Goudland Sinode met Gys van Schoor se geloofsreis doening, en Gys bied toe aan dat ek sodanige stilte retraite daar by sy Sentrum vir Geloofsvorming in die idilliese overbergse dorpie van Greyton kan kom doen. Beide hy en sy vrou Thea is opgeleide geestelike ‘directors’ (leerlinge van die katolieke non Mary Fisher) wat so ‘n stilte retraite kan fassiliteer, maar, waarsku hy: as dit jou eerste keer is, moenie dit langer as 10 dae probeer maak nie. En so is ek Kaap toe, vir stilte en afsondering in Greyton, en ‘n lewensingrypende ontmoeting met my Here!
Beide voor en na die retraite ontmoet jy eers met ‘n sielkundige in Somerset-Wes, wat ‘n eerlike assesering van jou persoonlikheid maak en voorstelle maak van spesifieke fokus-areas vir jou tyd van stilte. En toe is ek Greyton toe, waar ek ontvang is soos ‘n eregas, en oorlaai is met hartlikheid. Ons het die daaglikse stilwordtye vasgemaak: vyf geleenthede elke dag om spesifiek gefokusd besig te wees met een enkele teksgedeelte, vir die hele duur van die stilte retraite. Hier leer jy wat Lectio Divina werklik kan doen: wanneer jy werklik diep delf in ‘n gedeelte van God se Woord. Elke dag is daar ‘n uur wat jy met jou geestelike ‘director’ gesels, en terugvoer gee oor die afgelope 24 uur, en spesifieke (moeilike) vrae in die gesig moet staar. Hier gebeur diep introspeksie wat jou forseer om jou skadu-kant in die oë te kyk en eerlik met jou innerlike mens om te gaan. En dan is daar tyd vir wandelinge in die botaniese tuin, en die Riviersonderendberge wat Greyton omring.
Henri Nouwen skryf: “I am afraid that in a few decades the Church will be accused of having failed in its most basic task: to offer men creative ways to communicate with the source of human life. But how can we avoid this danger? I think by no other way than to enter ourselves first of all into the center of our existence and become familiar with the complexeties of our inner lives.” Hierdie stilte retraite help presies om dit moontlik te maak, nl. om self jou eie kompleksiteite in die oë te staar, en bloot te stel aan die ondersoekende oog van die Allerhoogste.
Jy mag dalk reken dat jy dit tog maar alles uit die gemak van jou eie huis en studeerkamer kan beleef, maar juis daar mis jy hierdie sleutel komponent: stilte en afsondering. Stilte en afsondering se oogmerk is om spasie te skep deur dinge uit jou lewe weg te neem: al die sosiale interaksies, al die tyd wat jy met maskers deurbring, en selfs met boeke (want dominees verslind leesstof). In die vakuum wat geskep word deur te onttrek van al bogenoemde, vind jy tyd vir nadenke en refleksie. Hier leer jy weer om na God te staar en die wederkerigheid daarvan te beleef. In my tyd van afsondering het ek diep persoonlike ontmoetings met die lewende Here beleef.
Ons het die einde van die stiltyd gevier. Ek loof die Here vir Gys en Thea wat my kon help om my fokus op my roeping weer blink te vryf. Die tweede gesprek met die sielkundige was ‘n goeie samevattende gesprek wat ‘n lang lys waardevolle leesstof tot gevolg gehad het. So, as jy tans sit en wonder wat om te maak met jou sabbatstyd wat voorlê, skakel die Sentrum vir Geloofsvorming by 028 254 9212 of deur hierdie aanlyn vorm in te vul, vir meer inligting. Ek praat uit persoonlike ondervinding: dit sal ‘n waterskeiding in jou bediening, maar ook in jou persoonlike lewe wees!
Jaco Schoeman
Constantiakruin