“My Ervaring van die Geloofsreis”

Die geloofsreis is een van die wonderlikste spieëls wat God tot dusver in my persoonlike geloofsreis gebruik het – ‘n spieël waarin ek eerlik na myself en na die pad waarlangs ek kom, kon kyk en moes kyk. Ek is deur die geloofsreis oortuig dat ek as ‘n lewenslange student van Jesus eerlik moet omgaan met my brose verlede omdat my toekoms in die eerlike omgaan met my verlede lê – ons toekoms lê in ons verlede.

Die donker gat van depressie en die groot ontwriting wat uitbranding in ‘n mens se lewe meebring, het my op hierdie reis gedwing na slegs twee jaar in die gemeentebediening as ‘n jongman in sy laat twintigs. Hierdie depressie en uitbranding is veroorsaak deur ‘n sisteem waarin ek myself as gemeentepredikant bevind het binne ‘n predikantekerk. Hierdie sisteem het my totale lewe opgeëis, dit het my oortuig dat ek altyd “ja” moet sê vir alles en almal wat aanspraak maak op my tyd en aandag, dat my “sukses” afhang van die opinies wat gemeentelede oor my huldig en dat ‘n oorvol program ‘n eienskap is van ‘n goeie dominee. Dít, tesame met die vrees vir verwerping waarmee ek my hele lewe lank worstel, was ‘n dodelike kombinasie. Dít het my vermoë gesteel om “nee” te sê, dít het my beroof van ‘n gebalanseerde lewe, dít het my gedryf om alles teen ‘n vinnige tempo te doen, om 200% voorbereid te wees vir ‘n preek, dít het my energie getap en my vreugde gesteel. Uiteindelik was dit alles maar net ‘n soeke na aanvaarding vir ‘n lewe wat die seer van verwerping eerstehands beleef het vanaf die vroegste herinneringe van my kinderjare. Aan die buitekant het ek dinge gedoen wat vir mense aanvaarbaar was en aan hulle verwagtinge voldoen het, maar in die binnekant was ek dood vir myself en vir God.

Alhoewel ek aanvanklik gevoel het dat my depressie en uitbranding my op die geloofsreis gedwing het, besef ek vandag dat God se uitnodiging tot ‘n vrye en ligte lewe juis deur die ontwrigting na my gekom het. Aanvanklik was dit nie maklik om in die spieël te kyk nie want dit verg baie genade om jou verlede te herbesoek, om met jouself gekonfronteer te word en om te besef dat jou gesin van oorsprong se bloed in jou are soms sterker is as Liewe Jesus in jou hart.

Ek bevind my vandag steeds binne dieselfde sisteem en werksomgewing. Niks het verander nie. Die verwagtinge van mense en die eise op my lewe het nie verander nie. Die sisteem waarbinne ek werk sal waarskynlik ook nie in die nabye toekoms verander nie, maar ek het verander. My teologie het verander.

Ten spyte van die eise op my lewe, kan ek vandag “nee” sê en leef ek vandag vanuit God se rus want die leuen is ontmasker wat my daarvan oortuig het dat God se liefde vir my bepaal word deur die opinie van mense. Die geloofsreis het my inderdaad gered van myself vir myself en vir die wêreld.

Genade is om deur God uitgenooi te word om in die spieël te kyk, en my gebed is dat almal bereid sal wees om hierdie uitnodiging te aanvaar want die toekoms van die kerk lê in die volgelinge van Jesus se eerlike omgaan met hul verlede. Wanneer ek vandag in die spieël kyk sien ek iemand in wie Jesus ‘n vreugde vind…

Tags: