blog-12.jpg

Oordenking (29/04/2019)

Week 29 April - 5 Mei 2019 - Joh 20:11-18

Ons oë vir Sy teenwoordigheid gaan oop wanneer ons Hom hoor ons naam sê.

11 Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12 Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13 Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.” 14 Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15 Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.” 16 Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester. 17 Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ” 18 Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Joh 20:14 Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie.

Maria het vir Jesus sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. Sy het Hom sien staan, maar nie gesien nie. Dis eers met die aanspreek van haar naam: Maria!, dat haar oë opgaan… “Sien” óns vir Jesus - in die alledaagse situasies van ons lewe?

Ons oë vir Sy teenwoordigheid gaan oop wanneer ons Hom hoor ons naam sê.

Neem ‘n tydjie om by Jesus te vertoef en luisterend te wag dat Hy jou op jou naam aanspreek…’n Manier om dit te doen is om jouself in die verhaal van ons teks te plaas, in Maria se skoene…Gebruik jou verbeelding.

NOTA! Hierdie webwerf gebruik koekies en soortgelyke tegnologie.

Hiermee gee jy daartoe toestemming. Ons onderskryf alle wetgewing rakende die beskerming van Private Inligting. Learn more

I understand