blog-03.jpg

Getuienisse - Geloofsreis Sessie 3

Geloofsreis -  Sessie 3 "Ware Self en Vals Self"

Ons is 'n groep predikante en sommige gades wat in 2017 op die "Geloofsreis" van die Sentrum vir Geloofsvorming, onder leiding van Gys van Schoor gegaan het.  Opgewonde om 'n verdieping te beleef, en sommer net om ook 'n bietjie te rus, het ek gedurende die eerste sessie gedurende Oktober 2017 vinnig besef dat hierdie Reis 'n bevrydende maar beslis ook 'n openbaring gaan wees.  Die tema tydens die eerste sessie was "Emosionele Spirituele Onvolwassenheid".  Min het ek geweet wat op die derde sessie op my wag.

Getuienis 1

Die tema van die derde sessie was die ontdekking van die leuens en verdedigingsmeganismes wat in ons onder-bewussyn leef as gevolg van 'n "Vals Selfbeeld" wat oor jare opgebou word; grotendeels as gevolg van konstrukte wat ons opbou om die "seer" in ons lewe te hanteer.  Min het ek geweet dat hierdie sessie weke later steeds groter insigte in my lewe na vore sou bring.

Sonder om die inhoud volledig hier te dupliseer, wil ek ter wille van konteks, net baie kortliks die volgende verduidelik:
Ons het geleer dat 'n mens konstrukte opbou en 'n "Vals Self" ontwikkel wat ons laat glo dat "wie" ons "is", word bepaal deur:

  • wat mense van ons dink
  • wat ons doen
  • wat ons besit

Tydens die Reis was ek oortuig dat ek die "seer" ontdek het en gevolglik die verdedigingsmeganismes wat oor jare 'n normale reaksie geword het op sekere omstandighede en gebeure.  Maar hoe meer ek in die weke daarna hieroor nagedink het, het ek egter besef dat daar 'n sub-tema is wat dieper lê as wat ek gedink het en wat in werklikheid baie meer determinerend in my lewe en gedagtes funksioneer as die "oorspronklike seer" wat ek met soveel oortuiging aanvanklik geïdentifiseer het.

Ek was onder die indruk dat ek vanuit 'n "seer van verwerping" onder die kategorie val van "wat mense van my dink".  Mettertyd het ek besef dat die sub-tema wat eintlik heelwat dieper lê, eintlik gaan oor "wat ek doen".  Hierdie Vals Self het ontwikkel vanuit 'n oortuiging dat ek niks weet nie en geen bydrae tot enigiets lewer nie.  Gevolglik doen ek alles in my lewe om te bewys dat ek nie "sutpid" is nie en probeer daarom alles van elke onderwerp te wete kom, om sodoende met gesag daaroor te kan praat.  'n Verdere gevolg is 'n oor-aktiwiteit om suksesvol te probeer wees in alles wat ek aanpak.  Die Vals Self in my probeer om my te oortuig dat ek is wat ek doen.

Ek is steeds op reis en het beslis nog nie gearriveer nie.  Ek is oortuig daarvan dat ek nog insigte sal ontdek soos wat die tyd aanstap, maar ek dank die Here dat ek op hierdie reis is, want nie net het ek die aanvanklike "seer" ontdek nie, maar het ek ook besef hoe seer ek maak deur my destruktiewe verdedigingsmeganismes waarmee ek myself probeer handhaaf.  Hierdie reis is besig om my te help om gebroke verhoudings in my lewe te herstel!

'n Mede-reisiger


Getuienis 2

Beste Gys,

Dankie weereens dat jy ons begelei het met die byeenkoms laas week.

Ek het persoonlik 'n goeie terugblik oor my tydlyn geneem en sake onthou wat ek as kind ervaar het. Dis wonderlik hoe die Gees dinge oopmaak en skoonmaak. Ek het 'n paar van my houdings kon begin verstaan en hoekom ek bv 'n oordrewe sekuriteitsin het en hoe ek my daaruit laat lei. (Ek sluit al wat 'n deur en slot is agv 'n inbraak uit kleintyd.)

Dit was wonderlik om met my seun te praat en dinge by hom te hoor wat ons kon opklaar. Ek sien uit na hierdie naweek dat ek my ander seun kan "beluister". Dit het my baie gehelp om my eie dryfvere te ontleed en beter te begryp.

Ek kon by gemeentelede hoor wat hulle optrede dryf en dis net goed om hulle beter te kan begryp en hulle te bedien. Dankie ook vir die besondere Nagmaal. Ek het geestelik "opgecharge" en ek bid en werk aan die aktiewe stilword dissipline.

Gys, ek waardeer jou bediening aan ons en die Kerk.

Groete in Christus,

Carl.

NOTA! Hierdie webwerf gebruik koekies en soortgelyke tegnologie.

Hiermee gee jy daartoe toestemming. Ons onderskryf alle wetgewing rakende die beskerming van Private Inligting. Learn more

I understand